• Somersetstraat  Graaff-Reinet 6280
  • Tel: 049 891 0803

Geskiedenis

 

As die eerste skool in Kaapland met Afrikaans as sy enigste voertaal, beklee Volkskool 'n besondere plek in die geskiedenis van Kaapland en Suid Afrika se onderwys en deur die jare het hy steeds as 'n baanbreker sy plek op die terrein van die Afrikaanse kultuur konsekwent gehandhaaf. Uit beroemde voorsate soos die"Midland Seminary" vir dogters, en die "Boy's College" stam Volkskool.

Aan die einde van 1919 word dr. G. von W. Eybers as hoof van die "Boy's College" aangestel en toe hy Nederlands deur Afrikaans vervang, het die poppe begin dans. Die Engelse ouers het nie met hierdie dubbelmedium seunskool genoeë geneem nie en stig 'n private Engelse kerkskool wat later in die "Union High School" ontwikkel het. In 1921 word ds. J. F. Naudé alhier bevestig as leraar van die N G Gemeente en hy dring daarop aan dat die Taalordonnansie in die "Midland Seminary" tot sy reg moet kom, want hy het twee skoolgaande dogters gehad. Na 'n besoek van die destydse S G O, dr. WJ Viljoen en sy hoofinspekteur, is besluit dat die ontevredenes 'n skool sal kry waar Engels die voertaal sou wees en dat Afrikaanssprekende kinders in één skool sou saamkom onder hoofskap van dr. G von W. Eybers om in hul moedertaal hul onderrig te ontvang.

Die noodsaaklikheid van 'n Afrikaanse skool het hom kort na die stigting in 1922, duidelik geblyk toe Afrikanerseuns en -dogters van heinde en verre gekom het om onderrig te ontvang - in so 'n mate dat die skool spoedig vergroot moes word. In 1926 is dr. Eybers opgevolg deur mnr. U. J. Cronjé wat 26 jaar lank die skool verder uitgebou en ontwikkel het. Sy hartstogtelike liefde vir die Afrikaanse taal en kultuur het 'n groot indruk gemaak en aansteeklik gewerk en so het Volkskool gedy tot 'n skool met 'n Afrikaanse tradisie wat ongeëwenaard is. Die verwoestende brand van 8 Mei 1949 en die gevolglike verwoesting van die gebou waar soveel lief en leed gedurende 'n kwarteeu van toewyding deurgemaak is kon die skool se trotse tradisie nie uitwis nie. Die oue het verbygegaan! Dit het alles nuut geword!

Aan die einde van 1952 lê adv. Cronjé die tuig neer en die volgende jaar kom mnr. G. J. Smit as nuwe hoof. In sy tyd vind die skeiding van die twee skole plaas. Aan die begin van die tweede kwartaal 1954 het die sekondêre leerlinge en personeel verhuis na die nuwe hoërskool in Plasketstraat. Mnr. H. C. de Beer het agtergebly as hoof van die Laer Volkskool. In 1954 is ook die pragtige nuwe koshuis, Huis Cronjè, betrek en is begin met die aanlê van die rugbyveld en atletiekbaan. Op 29 en 30 September 1955 neem die geagte S G O, dr. Meiring, die amptelike opening van die skoolgeboue, sowel as Huis Cronjè, waar.

 

  

Foto regs: Koerantberig van 50 jaar gelede.