Gedurende die laaste saalbyeenkoms van die jaar het ons die graad 7’s van 2022 gegroet. Dankie ds. Johan Ekkert vir die mooi boodskap wat u aan die graad 7’s gelewer het.
Meneer Joubert het die graad 7’s met die volgende woorde gegroet:
Om te groet…
Dit is kompleks,
dit kan nie omskryf word nie…
Dit is nie ‘n handdruk, ‘n drukkie of ‘n soengroet nie.
Dit is nie hol woorde soos:
“Ons gaan kontak hou,
Sien julle weer.
Totsiens, maar nie vaarwel.”
Dis losmaak en agterlaat.
Dis oppak en ophoop.
Dis oopsluit en toesluit.
Dis vergeet en onthou.
Dis koester en trotseer.
Dis oulaas stap ‘n laaste keer
met dìe wete:
Dis ‘n stukkie van my menswees agterlaat,
maar tasse vol onthou saamvat –
(Herinneringe sal mens nooit versaak.)
Dit is altyd moeilik om afskeid te neem, selfs vir diegene wat voordoen asof hulle nie juis omgee nie. En ja, alle ervarings was nie noodwendig altyd positief nie, maar dit was ook nodig. Nodig vir die reis wat voorlê. Nodig om jul reis vorentoe met opgewondenheid en moed aan te pak, want daar is altyd ‘n nuwe uitdaging,- ‘n nuwe avontuur.
Begin jou nuwe avontuur met ‘n vaste afhanklikheid van ons Hemelse Vader, met goeie maniere en empatie, met regverdigheid, eerlikheid, nederigheid en boweal integriteit.
Ons beste wense vergesel elkeen van julle op jul pad vorentoe. Mag al jul drome waar word en al jul harde werk met sukses beloon word.
mnr. Deon Joubert (Skoolhoof)
Foto’s Jan-Hendrik Swiegers