Boeke kry vlerke op Wêreldboekedag by Laer Volkskool
Op 23 April het Laer Volkskool se gange tot lewe gekom met kleurvolle karakters en kreatiewe kostuums toe Wêreldboekedag op gepaste wyse gevier is. Leerders het die dag gevul met opwinding deur aan te trek soos hul gunsteling boekkarakters, en die skool het vir ‘n oomblik verander in ‘n wêreld van stories en verbeelding.
Die Graad 11 en 12-leerders van Hoër Volkskool het ook hul deel gedoen om die magie van stories te laat leef deur eie verhale voor te lees in die klasse. Dit het nie net jonger leerders geïnspireer nie, maar ook die dag nog meer besonders gemaak.
Voormalige personeel van Laer Volkskool het teruggekeer om saam in die pret te deel, en het as beoordelaars opgetree vir ons “Beste Geklee” kompetisie. Die besluit was moeilik tussen al die fantastiese inskrywings, maar drie wenners het uitgestaan:
Graad 1-3: Jan en die Boontjierank – Dawie van der Merwe
Graad 4-5: Shaka Zulu – Truter Olivier
Graad 6-7: Cruella de Ville – Hayley Mostert
’n Hartlike dankie aan ons beoordelaars – Gideon van der Mescht, Santa Potgieter en Marelize Botha – vir hul tyd, entoesiasme en aanhoudende liefde vir Laer Volkskool en sy leerders.
Ons sê ook opreg dankie aan elke ouer en leerder wat met ons hul fantasiewêrelde kom deel het. Julle kreatiwiteit en deelname het van hierdie dag ’n onvergeetlike een gemaak!
📸Gideon van der Mescht

Verwante berigte